Deur Maretha Botes

Dinge wat jy dalk as vanselfsprekend aanvaar – om ’n potlood vas te hou of ’n kraletjie tussen jou duim en wysvinger van die vloer af op te tel, of net jou bloes se knoop vas te maak – kan nie gebeur sonder die werking van jou kleinspiere nie.

Die vermoë om ons spiere te beheer is die sleutel agter elke beweging wat ons maak. Fyn motoriese ontwikkeling behels die ontwikkeling van hierdie kleinspiere, wat voorkom in die palms van ons hande en vingers en om ons oë en mond.

Byna niks sonder kleinspiere nie

Fyn motoriese ontwikkeling is ’n uiters delikate kombinasie van die ontwikkeling van die senuweestelsel en die spiere. En hiervoor het jou kleinding baie oefening en repetisie nodig! Dink net: Sy kry dit een keer reg om die ertjie in haar bord tussen haar duim en wysvinger op te tel, maar om dit met gemak te kan doen – sonder om eintlik eens daaraan te dink – het sy oefening nodig.

Herhaalde oefening versterk die spiere én dra by tot breinontwikkeling. Die onvoldoende ontwikkeling van jou kind se kleinspiere kan later in haar lewe vir haar oneindige frustrasie beteken en tot agterstande lei. As sy nie genoeg geleentheid kry om haar kleinspiere te oefen nie, sal die spiere swak wees en die beheer wat sy oor byvoorbeeld haar hande het, sal beperk wees. Dit kan haar kwaai frustreer wanneer sy uiteindelik meer gevorderde skooltake moet verrig soos skryf, klei speel en teken.

Natuurlike instink

Natuurlike nuuskierigheid is jou klein snip se motivering om aktiwiteite wat kleinspiere ontwikkel te oefen. Ouderdomgepaste spel en oefening is egter nodig vir optimale ontwikkeling.

Ontwikkeling vind plaas teen ’n pas wat deur ’n ingewikkelde mengsel van gereedheid (jou kind se ouderdom) en oefening bepaal word. Verskillende aktiwiteite versterk en benodig die gebruik van verskillende spiere.

Om ’n reguit lyn te kan teken, gebruik jou kind ander spiere as wanneer sy ’n sirkel teken. Om sowel sirkels as reguit lyne te kan teken, is die basis van skryfvaardighede later in haar lewe. Kinders wat sukkel om sirkels te teken, kan later ook daarmee sukkel om ronde letters te skryf.

Die rol van nuuskierigheid

Fyn motoriese vaardighede skep geleentheid vir kinders om hul wêreld te verken, sê Eleanor Burger, ’n arbeidsterapeut van Pretoria.

“Dit stel hulle in staat om verskillende belangrike funksionele take te verrig: alledaagse werkies soos om skoenveters vas te maak, ritssluiters op klere of tasse te gebruik, knope vas en los te maak, sleutels te hanteer, krane oop en toe te draai en hande te was. Al hierdie take dra by tot ’n kind se onafhanklikheid met selfsorg,” sê Eleanor.

Op skool vereis die meeste aktiwiteite goeie fynspierontwikkeling – dis nodig vir verf, knip, inkleur, teken, skryf en lees. “Ons hande is die ‘gereedskap’ wat ons die meeste gebruik om aktiwiteite in ons alledaagse bestaan uit te voer,” sê Eleanor.

Ten einde fyn bewegings gekoördineerd uit te voer, moet sekere liggaamsdele stewig en stabiel gehou word terwyl ander beweeg. Om te kan teken en skryf, verskuif die bewegingsfokus byvoorbeeld van die skouer na die elmboog, pols, kneukels, vingergewrigte en uiteindelik die gewrigte van die duim, voorvinger en middelvinger terwyl die laaste twee vingers help om die hand te stabiliseer. Goeie skouerstabiliteit is dus belangrik vir vingermobiliteit en handfunksie.

Die ontwikkeling van fyn motoriese vaardighede is afhanklik van goed ontwikkelde groot motoriese vaardighede.

In haar eerste drie maande is die gryprefleks – wat jou baba toelaat om haar vingers op te krul en voorwerpe wat in haar hand geplaas word, vas te vat – oorheersend. Aan die einde van haar eerste jaar sal sy al kan kies hoe sy haar hand wil manipuleer om ’n spesifieke voorwerp op te tel – gaan sy die appel met haar een hele handjie of albei hande optel?

Terloops, om te leer hoe om albei hande te gebruik om ’n taak uit te voer is ’n uiters belangrike vaardigheid wat in die eerste jaar van ontwikkeling geleer word.

Dit kan begin deur twee blokkies teen mekaar te kap. Later sal sy leer hoe om elke hand afsonderlik te gebruik om een taak te verrig – soos skottelgoed was vir Ma!
Babas ontwikkel ook die vermoë om spesifieke groepe spiere of ledemate afsonderlik te gebruik. ’n Pap baba beweeg haar hande en arms asof dit een is. Mettertyd ontwikkel sy die vermoë om haar arms en hande in fyner bewegings te beheer.

Uiteindelik is dit koördinasie wat alle aspekte van fyn motoriese vaardighede soos ’n goed geoliede masjien laat werk. Namate hand-oogkoördinasie ontwikkel, leer jou nuuskierige agie dat daar ’n verband tussen die verskillende dele van haar lyf is.

Kom speel-speel daar!

Niks hoef harde werk te wees nie, sê Eleanor. “Spel voed ’n kind se lus vir ontwikkeling spontaan. Deur te speel word die sensoriese stelsels gestimuleer en so ook fynspier-ontwikkeling. Kinders leer deur spel.” Spel is hulle belangrikste “werk”. Dit is hul veld van kundigheid (Ma speel mos lankal nie meer nie!) en daarom neem hulle graag leiding en inisieer dikwels self
goeie speelgeleenthede om aan fyn motoriese ontwikkeling te werk.

In hulle daaglikse lewe eksperimenteer kinders met hul eie omgewing, beproef nuwe dinge en streef daarna om meer ingewikkelde uitdagings die hoof te bied. Sukses in ’n nuwe uitdaging gee hulle
nuwe motivering en selfvertroue om weer en meer te probeer. Dit is die wonder van ontwikkeling!

Gevaarligte

As jou kind aktiwiteite vermy wat die gebruik van die kleinspiere behels, moet jy liefs ’n kundige raadpleeg, sê die arbeidsterapeut Eleanor Burger. Dit sluit in tekenen knipaktiwiteite.
Gevaarligte moet ook flikker as jou kind ’n swak potloodgreep het en sukkel om ’n potlood te beheer. Die korrekte potloodgreep ontwikkel gewoonlik tussen drie en vier jaar, sê Eleanor. Tussen vier en ses jaar word beheerde vingerbewegings beter.

Die ideale greep is wanneer die potlood tussen die duim en voorvinger vasgehou word en op die middelvinger rus. Die opening tussen die duim en voorvinger moet oop en rond wees. Vir ekstra greep kan die potlood ook op die ringvinger rus. Die korrekte greep is nodig vir mooi skrif en ’n goeie skryfspoed

Speel só

  1. Vir tasdiskriminasie en grepe: Speel met voorwerpe met verskillende teksture en grepe. Dink aan jellie, modder, sand en water. Laat haar op en oor oppervlaktes van verskillende teksture lê,
    kruip en loop. Laat haar vroeg reeds self skoene en kouse aanen uittrek en knope probeer vasmaak.
  2. Die vestibulêre stelsel: Laat haar in alle posisies beweeg, swaai, draai, rol en tuimel.
  3. Proprioseptiewe stelsel: Bou hindernisbane met die goed wat in jul huis is (kussings en tafeltjies) en trek tou teen mekaar. Doen aktiwiteite met toe oë en teken syfers met stokke in die sand.
  4. Skouerstabiliteit: Magietyd is belangrik. Kruiwastoot en kruipspeletjies waar julle diere naboots, help ook.
  5. Sitpostuur: Laat haar op ’n bal sit as sy TV kyk of spoeg-en-plakwerkies by die tafel doen. Die bal help om rompstabiliteit te bevorder en die effense beweging laat ’n goeie sitpostuur toe. Die baldeursnee moet omtrent die lengte van haar arm wees.
  6. Fynspiere en dinamiese vingerbewegings: Maak haar vingers fiks met speeldeeg en vingerverf. Skeur koerantpapier in stukke en maak balletjies waarmee julle mekaar kan gooi. Gebruik spuitbotteltjies om plante mee water te gee en speel met watergeweertjies. Druk kleingeld in die spaarbussie. Speel met Lego-blokkies en ryg krale.
  7. Oogbewegings: Laat baba helderkleurige voorwerpe met geluide volg. Indien nodig kan ’n oogkundige oefeninge vir oogbewegings gee of selfs ’n tydelike bril om die oë te help om beter saam te fokus.