Deur Shanda Luyt

Daar is min dinge wat ’n baba so van plesier laat jil as wanneer hy hom volspoed in sy loopring wegskiet en die wêreld vanuit ’n nuwe hoogte kan verken. Nog lekkerder is dat dit jou hande los maak om gou die kos te kook of wasmasjien te laai.

Ontwikkelingskenners waarsku teen die gebruik van loopringe, maar aan die ander kant vertel jou skoonma dat haar kinders almal loopringe gebruik het en kyk net hoe oulik is hulle vandag. Die eerste ding wat jy moet weet is dat ’n loopring nie jou kind gaan help om gouer te leer loop nie. Om die waarheid te sê, in studies is gevind kinders wat dikwels in ’n loopring was, het gemiddeld later gesit, gekruip en geloop as dié wat nie loopringe gebruik het nie.

’n Loopring is vir ma’s voordelig, nie vir babas nie, sê Riana Knouwds, ’n arbeidsterapeut van Vereeniging. “As jy jou kind ’n kort rukkie in ’n loopring laat ry is dit gewoonlik nie ’n probleem nie, maar ma’s hou nie by ’n halfuur nie.”

Alet Victor, ’n arbeidsterapeut van Centurion in Pretoria, sê arbeidsterapeutese hoofbeswaar teen loopringe is dat dit kan inmeng met die normale ontwikkelingspatroon van die baba. “Dikwels wil ’n kind nie meer op die vloer rol of kruip wanneer hy eers die regop gevoel van ’n loopring gekry het nie, en so loop hy ander belangrike ontwikkelingsvaardighede mis.”

Dit meng in met ontwikkeling

Riana sê ouers gebruik dikwels loopringe omdat babas dit geniet om regop daarin te sit want hulle kan alles sien, maar ongelukkig is dit dikwels voor die liggaam gereed is om ’n regop posisie te handhaaf. “Dit veroorsaak probleme omdat baie babas dan later nie wil kruip nie, maar eerder regop wil wees. Kruip is belangrik vir spierontwikkeling, hand-oogkoördinasie, skouerstabiliteit, gewrig- en elmboogontwikkeling. Dit help die boog van die hand ontwikkel en versterk die gewrigte. Dit help babas om hul omgewing beter te verwerk en tasdefensiwiteit te voorkom, en speel ’n belangrike rol in ruimtelike-visuele persepsie.”

Sy sien dikwels kinders wat in die skool sukkel om lang rukke stil te sit. “Dis soms omdat die liggaam nie sterk genoeg is om ’n volgehoue posisie te handhaaf nie. Die loopring dra hiertoe by omdat dit kruipgeleenthede verminder en babas die kruipstadium soms heeltemal oorslaan.”

Nog ’n probleem as ’n baba so vroeg in ’n regop posisie geplaas word, is dat hul romp nie sterk genoeg is nie, sê Riana.“Wat gebeur is ’n tipe val-loop; die baba gebruik sy momentum om te beweeg en gebruik nie sy liggaam reg nie.” Dis ook ’n struikelblok vir refleksintegrasie.

Alet verduidelik dat elke baba se ontwikkeling ’n baie spesifieke patroon volg. “Elke vaardigheid wat die kind bemeester is ’n bousteen waarop ’n volgende vermoë gebou word. Voor baba leer loop, moet die primitiewe reflekse eers geïntegreer wees, die kop- en nekspiere moet sterk wees sodat baba sy kop regop kan hou, en hierna moet baba leer om te rol, te kruip en dan te loop.

“As ’n baba te vroeg in ’n loopring geplaas word, word al die nodige spiere nie genoeg ontwikkel nie. Ander spiere soos die bal van die voet word weer oorgestimuleer, wat asimetriese ontwikkeling tot gevolg kan hê. Dis amper soos ’n vrou wat net hoëhakskoene dra en later nie meer platvoet kan loop nie. Verder gee die loopring te veel ondersteuning rondom die maagspiere, wat loopbalans negatief kan beïnvloed. Indien enige van hierdie boustene nie na wense neergelê word nie, benadeel dit die kind se hele ontwikkelingspatroon.”

Hand-oog-voet-koördinasie word onderdruk omdat vrylike beweging op die vloer verminder word, sê Alet. “Die oppervlak van die loopring voorkom dat baba sy omgewing ontdek deur te vat, proe, voel en sensories te ontwikkel – al het sommige modelle allerhande oulike en kleurryke aktiwiteite.“

’n Loopring beweeg verder slegs op een horisontale vlak, waar baba op hierdie woelige ouderdom eerder die kans gegun moet word om in, uit, op, onder of deur voorwerpe soos meubels of hindernisse te kruip, klouter en seil, en om van een posisie na ’n ander te beweeg: sit na staan, en kruip na sit na optrek teen banke en so aan.

So word al die spiere en gewrigte op ’n natuurlike manier gestimuleer en versterk terwyl baba in sy ruimte rondbeweeg en sy omgewing ontdek.

“Die loopring gee te veel ondersteuning vir die baba en sy lyfie is nie in die korrekte loopposisie nie. Hy hang gewoonlik eerder in die loopring en gebruik net die bal van sy voet om te beweeg. Baba skop dikwels ook eerder agtertoe of vorentoe en loop nie op sy voete nie.”

Riglyne vir loopringe

  1. Jou baba se voete moet plat op die grond wees (hy moenie in die loopring hang nie) en hy moet hom self kan opstoot en regop staan.
  2. Jou baba moet reeds kan rol, sit en kruip voor hy in ‘n loopring geplaas word.
  3. Sit jou baba net vir kort rukkies in sy loopring, nie meer as 15 minute op ‘n slag nie.
  4. Hou die loopring weg van trappe waar dit kan afval, koorde of riffels waarteen dit kan vassteek en afdraandes waar die loopring te vinnig sal versnel.
  5. Maak seker jou huis is loopringbestand. Onthou dat jou baba hoër as gewoonlik kan bykom.

Die regte tyd

Dis juis in daardie moeilike oorgangsfase wanneer jou baba nog nie kan kruip nie, maar gefrustreerd heen en weer wieg en huil omdat hy nie kan kom waar hy wil wees nie, dat loopringe vir baie ma’s ’n uitkoms is. Maar, beklemtoon die arbeidsterapeut Riana Knouwds, frustrasie is eintlik ’n baie goeie ding vir baba. “Dit laat hom die volgende ding doen. Ons tel hulle te vinnig op, want ons wil nie hê baba moet huil nie. Tog dwing die frustrasie jou kind om te oefen vir sy volgende vaardigheid, en dis nodig, anders loop hy gehalte-ontwikkeling van sy spiere, visuele persepsie en vestibulêre stelsel mis.”

Die arbeidsterapeut Alet Victor meen loopringe kan wel gebruik word wanneer die baba reeds kan kruip en begin opstaan om te loop. “Dit sal hom help beweeg, wat babas dikwels aanmoedig om ook daarsonder te probeer, en dit voorsien in die baba se behoefte om regop te kom, versterk beenspiere en verbruik energie.”

Alternatiewe

Die beste plek vir enige baba om te ontwikkel is op die grond, sê die arbeidsterapeut Alet Victor. “Hier is hulle veilig, kan in en uit enige posisie beweeg en maklik en veilig besig gehou word. Gee jou baba iets interessants om hom mee besig te hou en maak sy direkte omgewing veilig.”

Kinders kan van baie kleins af betrek word by wat hul ouers doen, sê sy. “As Mamma kos maak, gee vir baba ’n bakkie met meel of jelliepoeier om mee te speel. As Pappa in die tuin werk kan ’n bal, grafie of selfs net blare ingespan word.

“Onthou, bokse en emmers met dinge om in en uit te pak en self in en uit te klim kan ure se plesier, ontdekking en besig hou verskaf.”